7 Slegte dinge wat goedgenoeg-ouers moet vermy: Laat kinders jóú drome vervul

fatherDaughter

7: Laat kinders jóú drome vervul

Prokrustes het ’n B&B langs ’n besige pad in Griekeland gehad. Hy was ’n man met ʼn vriendelike geaardheid wat daarvan gehou het dat dinge netjies en skoon is. Hy wou altyd gehad het dat sy gaste sy gasvrye plek fisies “meer perfek” (amper soos een van daardie volmaak-gevormde Griekse standbeelde) sou verlaat as toe hulle aangekom het.

Die meeste dae sou Prokrustes met sy lekkerruik-pyp op die stoep die gaste inwag. Dadelik het hy hulle laat tuis voel en ’n gevoel van veiligheid het oor hulle gesak wanneer hulle sy heerlike kos geproe asook hulle kamers gesien het.

Hy het die gaste altyd verseker dat die bed waarop hulle sou slaap, uniek was – dit het die persoon wat daarop geslaap het, presies gepas. Wat hy nie aan hulle verduidelik het nie, was hoe die bed gewerk het nie.

Nadat die gaste, moeg na ‘n dag se reis, aan die slaap geraak het, het Prokrustes sy gasvryheid gaan vervolmaak. ‘n Kort persoon is gerek totdat hy/sy die bed gevul het. As ’n lang persoon se liggaamsdele oorgehang het, is dit onmiddellik afgesny!

Daar is gesorg dat almal presies op die bed pas – met ‘n rekkery of deur amputasie. Wanneer sy gaste – hinke-pinke of verrek en seer – die volgende môre daar weg is, het hulle presies ingepas by die dimensies wat ’n “perfekte” Griek, volgens Prokrustes, moes hê…

Daar is ouers wat ly aan die Prokrustes-beginsel – daar is net een weg en dis húlle weg. Hoeveel keer het ons al gehoor van ongelukkige volwassenes wat ‘n loopbaan volg wat deur hulle ouers vir hulle gekies is (of liewer, op hulle afgedwing is)? Dit was hulle ouer se droom vir hulle, nie hulle eie droom nie. Die gevolg is ongelukkigheid en ‘n gevoel van betekenisloosheid.

Goedgenoeg-ouers glo nie dat een grootte almal pas nie. Sagte-oë-ouers glo dat God ons elkeen uniek gemaak het. Ons glo dat God drome vir ons kinders het en dis daardie drome wat sagte-oë-ouers hulle kinders mee moet help om te vervul. Sy drome stem ooreen met hoe Hy ons kinders bedraad het.

Leave a comment